Elmiah van der Merwe
27 Oktober 2011 @ 15h52
Midwives Exclusive, Pretoria
Na ‘n laaang uitgerekte 2 jaar, ‘n rugoperasie en invertiliteitsbehandeling, was “Mikron” eindelik oppad. Doc Tony Rodrigues saam met sy Medfem-span en al ons geliefdes se onophoudelike gebede het ons gehelp om haar binne te kry ;-)…
Buiten vir die WOES naar en reflux, was die swangerskap weereens heerlik. Dit was albei kere vir my soooo lekker om ‘n magie te kan hê. Ongelukkig (en gelukkig) het dit ook tot ‘n einde gekom en is ons sak en pak (behoorlik) van Rosh Pinah af Pretoria toe om vir Mikron te gaan wag. Ons het die eerste naweek op Mafikeng spandeer saam met ons van der Merwe familie en is vandaar na Jacques en Hanri en Louis en Kara in Midstream, Pretoria.
Ons het almal met die telling van 38 en 17 in ons koppe geloop. Alika het op 38 weke gekom, Mikron was al baie mooi ingesak teen die tyd wat ons 30 September uit Rosh Pinah uit gery het, en so baie oulike ander mense verjaar 17 Oktober, dat ons koppe redelik dAAr was…
…Ma Belia het gesê: “kry julle koppe reg vir as dit die volle 40 weke gaan wees”…
…Ma’s weet soms noggal waarvan hulle praat…
Op week 38, 15 Oktober, was ons nog baie rustig. Ons het Heather gesien op 18 Oktober en sy het voorgestel as ons nog rustig is, doen sy geen inwendige ondersoeke en dies meer nie, ons wag rustig. Op 39 weke, presies, het ons toe ons “refresher” voorgeboorte klas saam met twee ander dierbare paartjies by Heather se huis. So aan die einde van die klas merk Heather by my op: “I can see you are so ready for this… it’s like… bring it on baby..” ;-).. en sy was soo reg. Maar Mikron was dol gelukkig hier in mamma se uterus.
Dinsdag 25 Oktober doen ons toe die inwendige ondersoek en Heather beveel aan dat sodra “dinge begin gebeur” ek asseblief so gou as moontlik by die Active Birht Unit moet uitkom, want ek is reeds 5cm ontsluit…. So gaan kuier ek nog vir Hantie by CT net daarna… (as Hantie geweet het wat ek op daai stadium geweet het, het sy my sweerlik weggejaar ;-)…)
Woensdag 26 Oktober stel Heather voor ons doen ‘n “stretch and sweep” en ek kry ‘n intense reflexology sessie om die kontraksies te trigger, want toe is ek al 6cm ontsluit en al waarvan ek weet is ‘n paar Braxton Higgs kontraksies…
Ek moet erken, teen daardie stadium was ek regtig al baie emosioneel. Ek het glad nie meer gedink dit is snaaks of dierbaar as iemand sms of bel om te hoor “of daar dan nog niks gebeur het nie”… “vir wat, vra ek jou, sal ek jou nie laat weet as iets gebeur het nie???”… Les geleer, moet nooit ooit ooit vir ‘n vrou aan die einde van haar swangerskap bg vraag vra nie. Nooit nie! Gelukkig het ek ook ‘n vriendin soos Marina wat my toe verseker dat die Here my eintlik bless. Want in Eksodus is daar ‘n volk gewees wat die Here so geseën het, dat hulle pynlose geboortes gehad het, en om tot op 6cm te kom sonder pyn, tel al as ‘n blessing…
Ons (Danie, ek en Heather) besluit toe as daar niks teen Donderdag gebeur het nie, sal ons ‘n induksie doen. 7cm Ontsluit en vele bespreking (water breek, pilletjies, drip) Donderdag oggend 27 Oktober … besluit ons op twee pilletjies. Heather sit dit 10h00 in en die kameras begin letterlik rol. Marina op haar pos agter die video-kamera en ook uit eie inisiatief so nou en dan agter die foto-kamera. Die kontraksies begin redelik rustig, maar bou lekker op. Nietemin kuier ons eintlik nog heerlik so tussen die kontraksies deur…
Ek en Danie stap so een stappie in die Femina parkeerterryn teen die bult op en af, en ek besluit nee… tyd vir die water asb. Seer is mos seer!
In die water geklim kan ek weereens nie glo wat ‘n ongelooflike pynverligter dit is nie. Die kontraksies voel of dit eintlik nie regtig weggaan nie, net ligter en sterkter. Mikron se hartklop word deurlopend gemonitor. Die water help ongelooflik baie vir die pyn, maar kan my ook dehidreer. Danie kry dus ‘n botteltjie koue water om my nat te spuit van tyd tot tyd en hy voer my ook gereeld water en “jungle juice” so om die beurt. Hy druk ook die “druk punte” op my voete om die kontraksies te help aankom. PS – die botteltjie water waarmee hy my kon nat spuit was vir hom vet pret, mens sou sweer hy was in ‘n Cowboy movie en nie in die kraam-saal nie…
Na ‘n ruk kom ons egter agter dat die kontraksies weer ligter word, so amper asof die pilletjies “uitwerk” en ek klim weer uit die bad uit. Squad langs die pad, hang in Danie se arms, lê op my eie arms op die bed… 14h30 en net 8cm ontsluit. Heather doen weer ‘n intern en bevestig dat die serviks posterior lê. Dus druk Mikron se kop nie vol op die serviks nie, en die boodskap wat by my brein moet uitkom dat kontraksies moet gebeur, gebeur nie. Sy stel voor ons breek die water as niks vorder teen 15h nie. So sit ek rustig op die bal, Mikron hik haar laaste uterus-hikke en ek Danie bewonder dit saam.
15h00 breek Heather my water. Glad nie seer soos so baie mense my op voorberei het nie. Ek het regtig niks gevoel nie, en is so dankbaar daarvoor. Wat ek wel gevoel het, was die eerste kontraksie na die water gebreek is!!! Vrek!!! Terug in die bad vir my….
Eee…. Wat het geword van daai geseënde volk??? Die bad het toe nie rerig ‘n verligting effek op daai kontraksies nie. Vrek. Hulle kom letterlik elke minuut. Hoe lank hulle aanhou weet ek nie, maar ek klim die berg… en ek blaas die borrels… en ek tel… en haal asem saam met Heather vir ‘n vrek… Dit is regtig BAIE intens en dit voel of my hele romp een groot kontraksie maak elke keer. Danie is langs my en hou hand vas. Marina is paraat agter die video masjien (nie dat ek enigsins daarvan bewus was meer nie)…. Ek sê sommer hardop elke slag wanneer die kontraksie begin… “neee neee neee”… en “aw aw aw”…. En Heather tel saam… en haal saam met my asem (wonder hoe kry sy dit reg om nie uit te pass nie…). Ek gaap vreeslik saam met so paar van die kontraksies… Heather lag vir my en sê dit is my endorfiene wat inskop. Ongelooflik hoe jou lyf oorneem en jy eintlik net saamry. Belangrikste van die rit is, dat jy aan die stuur moet bly, want neem die pyn oor, is jy in die
moeilikheid. Heather is gelukkig ongelooflik en help my vinnig om beheer terug te vat toe sy sien ek is naby om dit te verloor. Dit is regtig vrek flippen seer (ek het iets anders gedink, maar gelukkig nie gese nie)…
Nog ‘n interne ondersoek bevestig dit is nou 9cm en Heather sê ek mag nog nie druk nie. Op ‘n stadium kon ek het nie meer nie, en ek sê toe dat ek regtig asb graag wil druk…
Heather beveel aan ek gaan sit-lê teen die bad se rand en druk. Dit was amper dadelik toe kroon die koppie. Sy vra of ek wil voel, maar op daardie stadium kon ek aan niks anders dink as fokus om in beheer te bly nie, en ek skud net my kop.
Heather en Erna albei help my om die laaste van die druk mooi stadig te doen. Hulle motiveer my so mooi om net bietjie te druk saam met elke kontraksie en dan te “hou” sodat die perenium stadig kan rek. Alles in ‘n poging om my te help om nie te skeur nie.
Uiteindelik is haar koppie uit en Heather sê as die kontraksie nog daar is, moet ek haar heeltemal uit druk. Emliah van der Merwe swem soos ‘n vissie vanuit die vrugwater in aardse water in. Heather sit haar dadelik op my bors neer en Elmiah skree vir ‘n plek in die span. Ek hoor niks, ek sien net my pragtige laaaan verwagte dogtertjie. Ek soen haar op! Op haar mondjie, op haar koppie. Ek tel haar op en kyk hoe sy lyk. Soooo mooooi! Danie is so bly en huil lekker saam met Elmiah. Ons beleef vir die tweede keer in ons lewe die ongelooflikste band van liefde en kameraadskap…. Vir mekaar, saam met merkaar en veral saam met Ons Emliah! Sy is eindelik hier…
Heather, Erna en Marina gaan uit die vertrek uit en los my, Danie en Elmiah alleen vir die eerste paar oomblikke van haar lewe. Ons bewonder haar van kop tot tone en sê so baie dankie vir haar! Heather-hulle kom terug en Danie sny die naelstring. Sy is van my bors af dadelik na Danie se bors sodat Heather my verder kan versorg (ek het so bietjie geskeur) en sodat Elmiah ook bietjie met pappa kan bond… skin-on-skin. Erna doen sommer die eerste Apgar so op Danie se bors met Elmiah.
Marina sit haar eerste doek vir haar aan en ‘n Rukkie later gee Heather haar vir my terug en ek help haar haar eerste slukkie vat. Ons borsvoed band, wat hopelik nog ‘n rukkie gaan hou, begin dadelik en goed. Sy suig so sterk! Ai, dis so lekker om ons kleine babatjie in ons arms te hou, haar velletjie te voel en haar nuutheid te ruik.
Ek en Danie kry aand ete, ek stort en ons beweeg vanuit die “active birth unit” oor tot in die hospitaal. Dis ‘n heerlike rustige warm somersaand. Dit donderweer en reën, net soos toe Alika gebore is. So geseënd, so bewus van die Here se teenwoordigheid en die heiligheid van ons dag.
Ons het natuurlik in die “birth unit” al vir Hanri gebel sodat sy vir Alika kan sê haar sussie is uiteindelik gebore. Ons bel ook vir Ma Belia (wat blykbaar heeldag al allerhande kos-floppe het oor sy wonder oor ons) en natuurlik vir Lucy, wat daar moes gewees het… Want sy het die hele swangerskap, voor en tydens, elke emosie met ons gedeel. Elke stukkie goeie nuus vir ons meer spesiaal gemaak… sy moes op ‘n manier deel wees van die hoogtepunt ook ;-)…
Alika kom toe uiteindelik in die hospitaal aan, en vir die eerste keer is ek ook in trane, want toe besef ek regtig wat ‘n wonderwerk altwee van ons meisikinder is. Hoe verskriklik lief ek dadelik, van sekond een af, vir altwee van hulle was!
Voorwaar geskenke uit God se hand…..