2015, dit was ons eerste swangerskap en soos meeste eerste keer ouers het ons nie regtig ‘n idee gehad wat om te verwag nie. Die swangerskap self was gelukkig “boring en straight-forward” soos Esti, ons vroedvrou, altyd gese het. Ons het heel pligsgetrou al die briefies gelees en klassies bygewoon, maar steeds meet ‘n mens nie wat om te verwag nie. Die probleem is dat ‘n mens absoluut geen verwysings raamwerk het nie. Ek meen…wat is ‘n kontraksie nou eintlik?? In my kop het ek gedink dit gaan kramperige tipe pyne wees wat strek oor jou maag…sekerlik is dit mos jou maagspiere wat babalyfie uithelp? En soos die klasse en boeke en briewe en mense almal sê, as dit 4-5 minute uitmekaar is, dan moet jy eers hospitaal toe gaan. Hulle sê ook mens moet uitkyk vir die “show”, alhoewel dit lank voor die tyd kan gebeur, en dan natuurlik verwag jy dat jou water sal breuk voordat jy regtig in kraam gaan…dankie Hollywood!

Ons geval het egter heel anders afgeloop. Ek het die Vrydag nog voldag gewerk, en as ‘n Fisioterapeut wat heeldag op haar voete is en fisies hands-on werk met pasiente, was ek nie te veel gepla as my voete of my rug aan die einde van ‘n dag bietjie seer was nie. Die Saterdag oggend is amper-pappa Andre werk toe, en ek is in die kar oppad na ‘n niggie se baba-tee in Alberton. Te danke aan die GPS wat heeltemal die pad byster geraak het, het ek toe ‘n uur lank verdwaal na die venue toe. Daar gekom het ons lekker gekuier vir ‘n goeie 4 ure saam met vriende en familie. Nie te min het my rug redelik seer begin raak, en aangesien ek dink soos ‘n fisio met ‘n lumbale diskus wat nie te lekker is nie, het ek dit toegeskryf aan al die sit deur die dag. Na die kuier was daar toe nog ‘n 40 minute se self bestuur terug na Pretoria. By die huis het ek bietjie rondgestap en op die bank gelê en die rugpyn het definitief verbeter. Daardie aand lê ons toe voor die televisie en fliek kyk en ek dink skielik by myself “miskien moet ‘n mens die rugpyn probeer time?”. Makliker gese as gedoen aangesien dit ‘n konstante pyn was, wat ook nie veel in intensiteit varieer het nie. Ons kon dis glad nie ‘n pattroon kry aan die pyn nie, en die fisio brein reken toe gebruik hitte en strekke en behandel die rug probleem so. Net om veilig te wees het ons toe ook vir Esti gebel, sy het ons verseker dat dit klink soos vroee of vals kraam en dat ons moet voortgaan met die hitte aangesien dit help om die hormone te stabiliseer. In die hittegolf aan die begin van daardie Februarie was dit toe nou ook nie so maklik nie. Eers het ek ‘n warm bad probeer, maar aangesien ek aan die korter kant is, het dit net gevoel asof ek verdrink in die bad. Toe oorgegaan na ‘n warmpak, maar kon ook nie goeie vriende met die raak in die hitte nie. Ek het myself reg gemaak vir “‘n lang aand” want as dit nou wel vroee kraam en nie vals kraam was nie, sou dit tog sekerlik maklik 16 ure neem voordat ‘n mens eindelik ontsluit is en hospitaal toe gaan. En sekerlik sou mens ‘n kontraksie in jou maag voel wat kom en gaan, en as die dan 4-5 minute uitmekaar is, dan sou ons rustig in die kar klim en hospitaal toe ry.

So reken ek toe vir Andre dat hy moet slaap en besluit om nie vir Esti te pla nie, aangesien sy daardie dag ‘n lang bevalling gehad het, en ek sou mos na die “lang aand” hulle albei meer nodig he in die oggend, goed uitgerus en reg vir die ding. Ek het vreeslik gesukkel om ‘n gemaklike posisie te vind, sit, lê, staan, niks het regtig gehelp om die konstante rugpyn vreeslik te verlig nie, maar dit was heeltemal uithoubaar. Toe middernag beleef ek my eerste “out of body experience”…dit was letterlik asof ek langs myself staan en sien hoe my hele lyf net altesaam begin druk. O Griet! Dit kan sekerlik nie reg wees nie, het ek nog gedink, maar dit was net een keer, my water het nog nie gebreuk of enige iets nie, so kom ons wag maar en sien wat gebeur. Nie te lank daarna nie toe gebeur dit weer! Laat ek maar vir Esti bel en hoor wat sy sê, miskien is hierdie die kontraksies wat almal van praat en moet ek nou hulle probeer time. Terwyl ek met Esti gesels gebeur dit toe ‘n derde keer en sy kon duidelik oor die foon hoor dat hierdie meer is as wat ek gedink het dit is. “Asem, asem, hoe lank voor julle by die Birthing Unit kan wees?” was haar kalm reaksie oor die foon. Ek stap toe by die kamer in en maak vir Andre wakker en sê dis tyd ons moet ry. Sy reaksie…sonder ‘n woord, verdwyn in die badkamer in en maak die deur toe. Okay? Het hy my mooi gehoor? Gaan hy nou eers stort of kruip hy weg of wat maak die man? Nog niks is gelaai in die kar nie maar gelukkig staan die sakke reg, die hele birthplan uitgeskryf en beplan. Watergeboorte by die Birth Unit, kerse en musiek in die agtergrond, onthou die laptop want die CD wou nie speel op die radio laas nie, sak vir mamma, sak vir baba, sak vir as ons moet oorbly of eindig in ‘n keiser, kosblik met verversings vir die laaaaang kraam wat voorlê en die karstoeltjie natuurlik. Waar is Andre en wat draai hy so? Esti gaan ons daar kry en ons moet aan die ry kom. Die rugpyn was teen die tyd beslis erger as vroeer en die lyf redelik ongemaklik. Uiteindelik verskyn my man en begin pligsgetrou als vinnig laai in die kar.

“Kraam is nie soos in die flieks nie, Hollywood oordryf, mens jaag nie soos mal goed in die kar tot daar nie, jy kan rustig ry want jy weet mos op watter stadium jy moet ingaan”…dit was my woorde vele male aan Andre gedurende die swangerskap. Mmmmm, toe nou nie. “Ry liefie ry, ek kan nie gemaklik sit nie! Stadig oor die hobbels maar ry! Esti wag seker al vir ons!” Kom aan by Femina se hekke, hoor hy skree vir die hekwag; “My wife is in labour!”. “GO GO GO” kom die antwoord uit die hokkie uit.

Ek onthou Esti het my gehelp van die kar na die birth unit en in die bad. Sy het nog vir die assistent gesê om neer te skryf: “Aangekom by hospitaal 01h10 in bad geklim 01h15”. Die plan was natuurlik en sonder pyn medikasie, maar die gedagte het toe begin inkruip, as sy nou vir my sê eks net 3 cm ontsluit weet ek darm nie of ek dit gaan maak nie. “Neewat,” was haar antwoord na die ondersoek, “jys heeltemal ontsluit en ek kan al sussie se kop voel, ons is reg as jy is.” Fantasties!! Kom ons doen dit! En 25 minute later het ons vir klein Anriette verwelkom in die wêreld.

Sy was perfek en gesond, ek was reg en het nie eers geskeur nie (dankie perineal massage!). Die birthplan was nog als net so agter in die kar, hehe! Esti en Andre het gou ‘n paar klere gaan uithaal vir my en Anriette, en die karstoeltjie geinstalleer. Na al die toetse en checks en borsvoed pogings en lekker koppie tee, het Andre ons toe gan inbook by die hospitaal….en dadelik weer uitgeboek, hehe! Wat het ons dan daar verloor, ons is mos mooi gesond. 05h00 terug in die kar, verby dieselfde hekwag…hyt seker gedink hy verbeel hom, kan tog nie dieselfde mense wees nie?…en terug huistoe. Daar gekom het Andre aangetrek en gery werk toe, aangesien daar niemand anders was wat die winkel kon oopsluit nie, en ‘n paar uur later maak ek nog die hek oop vir die tuinier wat die Sondag moes kom werk. Oupa en Ouma is ingelig dat die eerste kleinkind gebore is, “Hoelaat is besoektyd en watter kamer is julle?” “Nee ma, ons is by die huis.” ….”Whaaaat???” Hehehe, dit was die reaksie vir die res van die dag van al die mense wat gebel het om te hoor hoe dit gaan met ons.

Dit was ‘n absolute perfekte, geseende kraam gewees en ons kan net dankie sê vir Esti en almal wat ons gehelp het. Ons is innig dankbaar dat die Here ons so gehelp en geseen het. Ons hoop en bid dat boetie wat nou oppad is, se kraam netso fantasties sal verloop!

Moral of the story: Jy kan kraampyne he net in jou rug, jou water kan dalk nie breuk nie en jy gaan dalk soos in Hollywood moet jaag hospitaal toe. Maar ignorance is bliss, en as jy nie besef jy kraam nie, is dit verseker baie makliker om te hanteer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.